Sielkundige Noodhulp vir Covid-19 (Corona virus)

Trauma is ’n emosionele staat en reaksie weens die ervaring van vrees, magteloosheid en hulpeloosheid.  Trauma verander denk patrone en emosionele reaksies in mense. Die Covid-19 pandemie veroorsaak ’n universele vrees vir siekte, pyn en dood. Dit volg ’n blootstelling aan sielkundige en sosiale stressors waar die persoon ’n ontwrigting van lewensroetines, gevoel van wanorde, abnormale hanteringstrategieë en die tekort aan ondersteuning sisteme kan beleef.  

Trauma is egter subjektief en kan verskillend deur mense geïnterpreteer word. Nie almal reageer dieselfde op traumatiese en stresvolle gebeure nie en almal het sterkpunte en vaardighede wat hulle help om lewensuitdagings die hoof te bied. Die volgende faktore speel ’n rol in die persepsies en hantering daarvan:

  1. Situasionele faktore
    • Hoe meer buite beheer ’n persoon voel hoe meer nadelige ervarings en gepaardgaande gedrag sal ervaar word. Die herstel van beheer oor ’n persoon se eie gedrag en keuses is daarom belangrik.
    • Voorspelbaarheid en sekerheid. Indien ’n persoon genoegsame informasie het oor ’n uitdagende situasie en die vermoë om ’n mate van voorspelbaarheid te hê oor wat moontlik volgende kan gebeur hoe minder sal hulle oorweldig voel. Ingeligte akkurate feite is dus nodig.
    • ’n Ondersteunings sisteem. ’n Ondersteunende, bemoedigende en positiewe netwerk van familie, vriende en onderwysers en ’n kultuur van “Ubuntu” (omgee vir mekaar) beperk trauma.
    • ’n Oop omgewing waar mense openlik kan deel en praat oor hul emosies en vrese is nodig sodat hulle omgewing “genormaliseer” kan word sovêr moontlik.
  1. Persoonlike faktore
    • Vermoë om begrip te toon en sin te maak uit die situasie. Verwarrende inligting moet opgeklaar word sodat daar sin gemaak kan word van die situasie. Goeie oordeel gebaseer op feite help om te onderskei tussen waarhede en vrees.
    • Individuele weerbaarheid (“resiliency”) en emosionele “grit” (volharding, moed, sterkte van karakter, morele standvastigheid). Vaardighede wat fokus op positiewe denkpatrone en gedrag om spanningsvolle situasies te hanteer is belangrik.
    • Selfvertroue in eie vermoëns (“self-efficacy”). ’n Fokus op positiewe verwagtinge om uitdagings aan te pak en gebruik te maak van jou vermoëns om die beste van ’n saak te maak is nodig.
    • Vermoë om diep onderliggende emosies aan te spreek. Bemagtiging om emosies effektief te identifiseer en te hanteer rakende die trauma is noodsaaklik.
    • Hanteringstrategieë. Die vermoë om jouself te kan distansieer van die situasie om dit meer effektief te kan hanteer.
    • Genesing van vorige trauma. Die vermoë om te leer uit vorige ervarings en hoe dit hanteer was bepaal ook hoe gereed die persoon is om die huidige trauma te hanteer.

3. Hantering van trauma (Covid-19)

  • Handhaaf goeie gesonde leefstyl higiëne en bou ’n sterk immuun sisteem deur gesonde kos, genoeg rus en oefening.
  • Versterk sosiale konneksies terwyl sosiale afstand gehandhaaf word deur digitale en sosiale media. Digitale kuiertyd, deel van gedeelde aktiwiteite soos besprekings van films en boeke asook gedeelde belangstellings behou konneksie en samehorigheid.
  • Behou ’n daaglikse roetine en fokus op selfsorg.
  • Stel kort volhoubare doelwitte en aanvaar dat jy die beste doen onder omstandighede.
  • Prioritiseer eie tyd en gesinstyd en doen aktiwiteite saam en individueel wat genotvol is.
  • Humor is die teenmiddel vir gevoelens van hopeloosheid. Inkorporeer humoristiese media en films.
  • Handhaaf en versterk HOOP! Hou vas aan wat betekenisvol is soos geloof, familie, waardes.
  • Ontspanningstegnieke en diep asemhaling verminder spannings vlakke en help om emosionele oorlading te voorkom.
  • Erken en aanvaar emosies. Almal het verskillende reaksies op ’n baie abnormale situasie van Covid-19. Wees bewus hoe gedrag gedryf word deur emosies en hoe daarom effektief te hanteer.
  • Wees ’n rolmodel vir ander deur hoe jy praat van Covid-19. Vermy negatiewe afbrekende lopende kommentaar daaroor. Die pandemie sal verbygaan, moenie vrees versprei nie.
  • Vermy ’n oordosis van negatiewe media en blootstelling daaraan.
  • Identifiseer wyses hoe jy ander eerder kan opbou, versterk en diensbaar wees soos die stuur van positiewe boodskappe, oproepe na vriende wat eensaam is ens. asook die beoefen dankbaarheid.
  • Wees bewus van die emosionele welstand van ander om jou en soek hulp indien dit nodig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

twelve + 4 =