Sosiale Media Grense vir Tieners

Die gemiddelde persoon besigtig hulle foon ‘n 110 keer ‘n dag vir boodskappe en tieners spandeer ook daagliks 6-7 ure op skerm tyd (rekenaars; tablette; televisie; fone ens.). Alhoewel tegnologie mense nader aan mekaar gebring het en werk vergemaklik het, is daar ook ‘n negatiewe kant aan die gebruik van sosiale media.

Dr. Brendan Belsham ‘n bekende psigiater in die Johannesburg area het in ‘n onlangse werkswinkel professionele persone en ouers gewaarsku dat daar ‘n toename is in angstigheid en depressie onder tieners weens die impak van sosiale media op hulle sielkundige welstand. Hy het gewaarsku dat die oormatige gebruik van skerms die grysstof van die brein verdun en dus “digital dementia” veroorsaak. Daar is selfs ‘n nuwe fobie vir die angstigheid om geskei te wees van jou foon genaamd “Nomophobia” opgeteken in die DSM-V vir sielkundige versteurings. Daarbenewens is daar ook ‘n groot kans vir verslawing aan sosiale media omdat dit dopamien in die brein se plesier sentrum afskei wat dieselfde effek het as dwelms en daarom word daarna verwys as “Digital cocaine”.

Tieners besef nie altyd dat die besluite wat hulle neem op sosiale media ‘n langtermyn effek op hulle kan hê nie. Luitenant Colonel Sakkie Pretorius is betrokke by die Forensiese Rekenaar Ondersoekeenheid in die SAPD en maan ouers om bedag te wees op wat hul tieners doen op sosiale media. Hy het aangedui dat tieners moet besin oor wat hulle adverteer deur die foto’s wat hulle op sosiale media plaas en die opmerkings wat hulle maak oor ander mense. As dit eers op die internet opgelaai is, is dit bykans onmoontlik om dit weer te verwyder omdat dit in ‘n oogwink versprei kan word na talle ander platforms. Hy het gewaarsku dat daar verskeie wette is wat gebruik word om individue te vervolg. Hy het genoem dat daar onlangs ‘n 15 jarige skooldogter wetlik aangekla (“Sexual Offences Act”) en suksesvol gevonnis is deurdat sy onvanpaste foto’s van haarself geneem en gestuur het. Sy is skuldig bevind aan vervaardiging en verspreiding van minderjarige seksuele foto’s. Hy het ook aangedui dat tieners ook vervolg kan word vir kuber afknouery (“cyber bullying”) en gemeld dat 1 uit elke 5 leerders en 24% van tieners al blood gestel was aan hierdie soort boelie gedrag in Suid-Afrika. Die polisie moet ook ongelukkig baie sake ondersoek van selfdood weens kuber afknouery wat na verwys word as “Bullycide”. Benewens al die bogenoemde gevare is daar ook die risiko van aanlyn pedofiele, bekruipers en bedrieërs wat tieners sien as sagte teikens. Daar is ook skadelike speletjies aanlyn soos die onlangse oopgevlekte “Blue Whale” speletjie wat geteiken was op tieners. Luitenant Colonel Pretorius maan dat ouers moet bedag wees op wat hul tieners oplaai en aflaai van die internet en sosiale media en wie hulle bevriend. Skole het geen magtiging om tieners te beskerm teen die wetlike aspekte indien hulle betrokke raak by hierdie aktiwiteite nie.

Die verantwoordelikheid berus dus op ouers om bewus te wees en pro-aktief te wees in die bestuur van hulle tieners se sosiale media en publieke profiel. Die volgende riglyne kan ouers help hiermee:

  • Balanseer skerm tyd met gesigs tyd. Moedig tieners aan om dieselfde hoeveelheid tyd wat hul voor ‘n skerm spandeer ook te spandeer aan die bou van werklike persoonlike kontaktyd met mense sodat hulle sosiale interpersoonlike vaardighede, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal kan bemeester.  
  • Leer konflik hantering strategieë vir jou tiener in plaas van om mense net te “unfriend” op sosiale media. Verhoudings behoort nooit verbreek te word via tegnologie nie.
  • Leer jou tiener dat mense prioriteit het bo ‘n foon of elektroniese toestel. Indien jy konstant op ‘n foon of tablet is terwyl jy by ander mense is kommunikeer jy dat hulle nie belangrik genoeg is vir jou nie.
  • Bemagtig jouself as ouer deur ingelig te wees oor watter tipe media en sosiale platforms jou tiener toegang het. Weet watter tipe toeps hulle aflaai en wat dit doen, watter tipe webtuistes hulle besoek en aanlyn speletjies hulle speel.
  • Onderrig jou tiener oor gepaste en veilige aanlyn gedrag. Moet nooit dink dat jou tiener nie daarby betrokke kan raak nie, wees eerder voorkomend. Tieners voel baie keer anoniem aanlyn en kan dan meer goed sê en doen sonder om aan die gevolge te dink. Praat met hulle oor sosiale media en internet etiket.
  • Ken AL jou tiener se vriende, ook die wat slegs aanlyn is. Dit voorkom dat jou tiener “vriende” maak met ‘n onbekende persoon wat hul voordoen as iemand wat hulle nie is nie.
  • Voordat jy ‘n “wapen van massa kommunikasie” oorhandig aan jou tiener, kommunikeer baie duidelik jou verwagtinge, reëls en hulle verantwoordelikhede. Dit is ‘n goeie idee om ‘n “tegnologie kontrak” met jou tiener te sluit waarin daar duidelikheid is dat jy as ouer die reg het om deel te wees op hulle sosiale platforms en hulle fone, rekenaars, tablette ens. sporadies na te gaan. Niks wat gesê word op ‘n tegnologiese toestel is privaat nie, want dit kan versprei word op talle maniere dus het ‘n ouer ‘n verantwoordelikheid om sy/haar tiener te beskerm teen moontlike gevare, probleme of om hulle van hulp te wees. Ken dus jou tiener se wagwoorde.
  • Beperk die gebruik van skerms in jou huis. Dit is verkieslik dat daar “skerm vrye zones” in die huis moet wees soos slaapkamers, eetkamers en binne-in die motor. Die blou lig wat skerms uitstraal versteur die melatonien produksie in die brein wat slaap affekteer en kan dis lei tot slapeloosheid. Indien mense eet voor skerms assosieer die brein ‘n skerm met kos en kan dus lei tot versteurde eetpatrone of ooreet.
  • Beperk die gebruik van skerms gedurende sekere tye van die dag. Dit is nie goed om tieners bloot te stel aan beelde wat gepaard gaan met vinnige veranderinge, harde geluide en helder kleure voordat hulle skool toe moet gaan nie. Dit is dan baie moeilik vir die brein om dan kalmer te raak en te fokus op wat een onderwyser sê waar daar nie so oorstimulasie van beelde en klank is nie. Dit is ook ‘n goeie idee om ook met tye ‘n skerm vrye wegbreek te reël waar geen lid van die familie elektroniese toestelle by hulle het nie sodat die gesin weer bande kan versterk.
  • Fone moet nie in slaapkamers herlaai word nie, maar eerder op ‘’n sentrale plek waar die ouers beheer daaroor het. Hulle kan dus hulle elektroniese toestelle inhandig vir ouers gedurende ‘n sekere tyd saans sodat hulle ‘n kans kan kry om af te skakel.
  • Laai spesifieke toeps af op jou tiener se elektroniese toestelle sodat jy beheer kan uitoefen oor skerm tyd en blootstelling op die internet. Die volgende is goeie monitor sisteme

              -Net Nanny  https://www.netnanny.com/

              -Puresight  http://www.puresight.com/

              -Disney circle https://meetcircle.com/        

              -My mobile watchdog  https://www.mymobilewatchdog.com/default.shtml

             -Rethink toep deur Trisha Prabhu om kuber afknouery (“cyberbullying”) hok te slaan.

  • Leer jou tiener om sy lewe privaat te hou en eerder net leef sonder om alles openbaar te maak. Jou digitale voetspoor moet wys wie jy werklik is sodat ouers en potensiële werkgewers met vrymoedigheid kan kyk na wat verskyn aanlyn.

Young people social networking and connecting together online

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 × one =